Daar’s sewe klippies in jou sak
Deur die Here vir jou ingepak
Sodat jy ene weg kan gooi,
Vir elke tiende jaar voltooi.
Eerste klippie, geen probleem
Die spel sal donkiejare neem
Dink ons in ydel kinderwaan
Die lewe gaan vir ewig aan
Op twintig waai die tweede klip,
Yl van moestas en rooi van lip,
Windmakerder kan jy nie kry
Wat ek wil, skuld die wêreld my
Klippie drie die laat jou dink,
Vir dertig jaar het jy rinkink,
Vier sewendes is daar nou oor
Om op te maak vir tyd verloor.
As uit jou hand die vierde val,
Dan vlek die grys jou slape al
En dit wat in die sak oorbly
Te min om als gedoen te kry.
Dan kom jy by halwe honderd,
Nou galop die tyd bedonnerd
En na die bult-op lewenspad,
Beginne jy die afdraand vat.
Voorlaaste klippie nommer ses
Glip uit die sak voor jy sê mes
Die wat gewerk het vir ‘n baas
Kry sy persent en groet vir laas.
Wee, o wee, nou klippie sewe,
Skriftuurlik het jy klaar gelewe,
Daar kom nou veel genade kort.
Vir die wat dalk wil tagtig word.
Daar is natuurlik taai kalante,
Jy sien hul soms in die koerante,
Wat net nie wil die emmer skop,
En eers na honderd om sal dop.
Of jy nou tot vervelens lewe,
Of tata sê hier rondom sewe,
By watter klip jy ookal stop
Gaan sal ons, die tyd raak op.
Ons wens jou dus ‘n sakvol klip,
Genoeg vir daardie honderd trip
En vreugde in jou kook en bak,
Tot jou knieë daar op oudag knak.
Nou ja, ou maat, daar het jy dit,
Al wat ons nou kan doen is bid
Vir gesondheid, liefde en geluk,
Met voorspoed vir die oorblystuk!





