Lappie-smous

Posted: November 3, 2011 in Uncategorized

Voor dagbreek een Vrydag sien ek ‘n jongman, aantreklik en sterk, deur Die agterstrate van ons stad loop. Hy trek ‘n karretjie waarop ‘n spul lappe lê.  Hulle lyk pragtig skoon, nuut en helderkleurig.

“Lappe! Lappe! Lappe!  Nuwe lappe vir oues!” roep die jongman. “Ek neem Jou stukkende lappe!  Kom ruil dit om vir nuwes.”

“Merkwaardig”, sê ek vir myself.  Dit lyk na so ‘n gawe, sterk jong man.  Sou hy dan nie ‘n beter werk kan kry nie?  Waarom nou met lappe smous?  My nuuskierigheid was so geprikkel dat ek hom gevolg het.  En ek is nie teleurgestel nie.  By die eerste huis waar die lappiesmous verbygaan, sit ‘n vrou op die stoep en huil. Haar sakdoek was sopnat en haar skouers het geruk van die snikke.  Dit was duidelik: haar hart was stukkend.

Die lappiesmous het sy karretjie gestop en na die vrou gestap.  “Mevrou, Gee jou lap vir my”, het hy saggies gesê, “ek sal vir jou ‘n nuwe lap gee.”  Toe neem hy die sakdoek en plaas ‘n nuwe lapsakdoek in haar handpalm.  Toe begin hy weer sy karretjie trek terwyl hy met sy ander hand ‘n snaakse ding doen. Hy sit die vrou se nat sakdoek teen sy oë en begin self huil.   Die vrou se trane het intussen opgedroog.

“Dis ‘n wonder!” het ek uitgeroep, en die huilende lappiesmous verder gevolg. “Lappe! Lappe! Nuwe lappe vir oues!” roep hy.

Kort daarna kom die lappiesmous op ‘n jongmeisie af.  ‘n Erg bebloede verband was rondom ‘n yslike wond aan haar kop gedraai.  Haar oë was dof En leeg. Toe haal die lappiesmous ‘n vrolike geel laphoed uit sy karretjie.

“Kom, gee my jou lap en ek sal jou myne gee!” bied hy aan.  Die meisie het hom net aangestaar.  Toe gaan hy nader en haal met ‘n teer gebaar die bebloede verband van haar kop af en draai dit om sy eie kop.  Skielik het sy begin glimlag.  Ek het na my asem gesnak, want saam met die verband het die wond gekom.  Die bloed het nou oor sy gesig gestroom, en haar wond was genees.  “Lappe! Lappe!  Ek ruil ou lappe vir nuwes!” roep die sterk, huilende, bloeiende lappiesmous.

Toe hy ‘n man met net een arm raaksien, vra hy: “Het jy werk, meneer?”  “Is jy laf? Antwoord die afarm-man bitter. “Wie sal my kan gebruik?” “Gee my jou baadjie, dan gee ek jou myne,” antwoord die lappiesmous met gesag.  Toe die ruiltransaksie voltooi is, kon ek my oë nie glo nie.  Die man het nou twee volmaakte arms gehad en die lappiesmous net een! “Gaan werk nou!” was die lappiesmous se vriendelike bevel.

So het die lappiesmous aangestap: huilend, bloeiend, gebreklik, oud en siek. Met sy enigste arm het hy sy karretjie getrek. My hart wou breek toe ek die droewige verandering in die mooi, sterk man se voorkoms sien.

Toe hy by die vullisdepot op die heuwel buite die stad kom het hy daar inmekaargesak en gesterf.

Ek het my seker aan die slaap gehuil – en later agtergekom dat ek dwarsdeur die res van daardie Vrydag en die Saterdag daar gelê en slaap het.
Die Sondagmôre vroeg is ek wakker geskok deur ‘n verblindende lig wat rondom  my skyn. Toe my oë daaraan gewoond raak, was ek die getuie van die wonder van alle wonders.

Voor my het die lappiesmous gestaan. Hy was weer jonk en mooi en lewend!
En al die lappe wat hy langs die pad by stukkende mense gekry het, was silwerskoon.

Ek stap toe na hom toe en vra: “Trek my ook nuut aan.”

Toe verruil my Here my vodde vir pragtige nuwe klere, en sê: “Gaan Vertel vir jou vriende: As julle mekaar liefhet, sal almal weet julle is My lappiesmouse vir die wêreld.”

0o_ o0 0o_ o0 0o_ o0 0o_ o0

MAG JY*..

– Nooit omdraai wanneer jy teleurgestel word nie.
– nooit ophou wanneer jy verloor het nie.
– nooit bly lê wanneer jy geval het nie.
– nooit haat wanneer jy nie waardeer word nie.
– nooit hoogmoedig word wanneer jy presteer het nie.
– nooit rus wanneer jy voorspoed gevind het nie.
– nooit in die steek laat wanneer jy vertrou word nie.

MAG JY*.

– Altyd lewe met die wete dat jy met ‘n doel lewe.
– altyd ly in die geloof dat lyding krag bring.
– altyd doen met die besef dat dit jou taak is.
– altyd gee en deur jou gawe verryk word.
– altyd gereelmagtigheid en ondersteuning
– altyd lewe met die oog op die onsienlike.

Geniet ‘n wonderlike dag met God aan jou Sy!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s